Aarde sluk my in
So het ons van die eenkant van die dorp na die heel teenoorgesteld kant verhuis. ʼn Piep klien ou woonstelletjie, drie verdiepings hoog in die bloue lug. Dit het gevoel of die aarde sluk my in.
Ma se pa het gehelp om ʼn ou wrak waentjie te kry. Dit was die koddigste geel karretjie met bruin wol sitplekke. Ek is seker die mense het gesê; daar styg die geel kanarie weer. Ma en ek sit voor, en die ander twee kinders agter.
Pa het nie van sy skoonpa gehou nie, en die storie was blykbaar oor ʼn erf geweer. Hy het altyd gesê, daai blerrie man sal lieg as hy bid ook. Ons woonstel was naby aan die universiteit en was daar altyd ʼn joligheid. Studente het daar gewoon en was hulle “flats” altyd kleurvol geverf met baie geraas.
Pa het begin besef dis tyd om aan te beweeg. Eerlik nie gedink hy gaan uit daai gat opstaan nie, maar hy het. Hy het ʼn tweede kans gekry en begin werk by die Nasionale Weermag. Snaaks hoe hy terug is na dit wat hom gebreek het. Maar daar het hy behoort, en hy het in gepas. Weer ʼn bietjie mens gevoel en waardig. Hy het self ʼn woonstel gekry met ʼn klein wit karretjie van 1960; ʼn “Vauxhall”. Sal dit nooit vergeet nie, het nooit gedink so kar bestaan nog nie.
Skaam kon geen mens meer kry nie. As ons by ʼn rooi verkeerslig moes stop, het ek altyd gebuk om ʼn veter vas te maak of iets op te tel. Net sodat mense my nie moet sien nie. Pa wat bolle rook uitblaas en dan het die dingetjie nog blindings ook in die vensters gehad. Liewe aarde sluk my in van skaamte.
Maar so het die drank duiwel ook saam getrek, en het satan seker gemaak hulle is baie goed geleë. Jy kon nie by ʼn meer kakspul intrek nie. Midde dorp waar dinge in die nag gebeur en kamers wat spook.
Ons moes sekere naweke by pa gaan bly en was dit my grootse haat. Hy het opgegee om ma terug te probeer kry, maar sy alewige woede het altyd weer opgevlam. Later was daar niks meer oor nie. Die twee jong mense wat so verlief was het mekaar gehaat. Eerlik gehaat. Ek was baie bang by hom gewees, veral as hy reeds vroeg geknak het. Dan sou ek wakker sit die hele aand om seker te maak ons is veilig. Dit was ook nie baie gerusstellend toe sy pel Eugene kamstig die spoke moet kom uitwys nie. Pa sê hy loop rond, stop en dan staan Eugene se armhare regop. Eugene sê toe die spook sit agter die stoof. Dis maar net een van die nare spookstories wat so voor ons kinders vertel was. Ons het nie meer plaas toe gegaan nie, ek het Oupa gemis.
Ma het ook weer die geleentheid gehad om saam haar familie te kuier en was ons gereeld daar. Vir die mans was daar weer nuwe bloed in die stad, en het hulle vinnig begin vlerksleep. Dit het glad nie die gewenste uitwerking op ons kinders gehad nie, want ons het geweet dat sy eendag sou aan beweeg.
Deur sport kon ek myself besig hou en was dit ʼn goeie verskoning om naweke skool aktiwiteite bytewoon, dan hoef ek nie na pa te gaan nie.
Hy het ʼn vrou by die werk ontmoet en het hy weer belangstelling in sekere aspekte van sy lewe ontwikkel, maar die ou drank draak wou net nie van sy skouer afklim nie. Die dag toe ons hoor hulle gaan trou, was die koeël deur die kerk en kon ons net vir die beste hoop. Ons drie kinders het voor in die kerkbank gesit terwyl al vier haar kinders deel was van die trou brigade. Maar nietemin was ons soort van bly vir pa, en ons glo op haar manier was sy goed vir hom.
Wat ons kinders betref was daar vir die eerste keer ʼn stabiliteit in ons huis en kon ons rustig slaap soos kinders moet. Clara het haar Ma gevolg en het sy na ons gekyk na skool. Sy was swanger met haar negende kind, en het sy die dogter na ma vernoem. Ons het elkeen op ons eie manier probeer om die stukke op te tel en te sorg dat dit vandaar net beter kon gaan.
Min wetende was ons elkeen se pad reeds lank voor ons geboorte vir ons uit gelê, en was al hierdie ontberinge net deel van die groter plan wat vir ons in die toekoms nog voorgelê het.
Ons het vroeg geleer dat ons vir onsself verantwoordelik was. Ma het voltyds gewerk en so het ons dit stap vir stap geneem. Ons wêreld was klein, maar vol engele wat ons styf vas gehou het. Soos die dag wat ma die kanarie spin oor ons kinders onophoudelik baklei. Ons het soos ʼn tol gespin oor die straat heen en weer. Ek dank die Vader vandag nog dat ons veilig tot stilstand gekom het, ʼn jong ma op breekpunt is nie snaaks nie. Daarna was almal sprakeloos en Tone se mondfluitjie weg.
Ek alleen was ook deeglik bewus van al die bose kwaad wat in die hoeke geskuil het. Ek het begin glo Eugene lieg nie, want pa het uit die woonstel getrek. Maar nog steeds het iets hom gevolg, en kon ek dit voel net soos Eugene. Dit was altyd daar.
2 Comments
Memories vlieg deur my gedagtes!
Maak reg vir n roller-coaster van memories!