My naam is afgelei van God se aartsengel Migael, wat beteken: “wie soos God is”. Migael was ʼn belangrike engel aangesien hy die leier van die hemelse weermag was; en op die aarde die Joodse volk beskerm het. In die Bybel word gesê dat dit aartsengel Migael was wat in ʼn dispuut met die draak was. Migael en sy leërmag het die draak (Lucifer) verslaan, en is hy geslinger na die aarde. (Openbaring 12) Satan en sy engele is daarna verban uit die hemel. Die volgende paar jaar was vir ons as gesin ʼn tydperk van absolute genade. As dit nie vir die engele in die hemel was nie; sou dit baie dae tragies geëindig het. En dan was daar maar altyd ʼn engel in vlees en bloed. Daar is geen Blommeland of Kabouters nie, dit was net in Heksie se stories.
Clara was een van daai lopende engele wat saam ons die pad geloop het en nooit ons hande gelos het nie. Sy was ʼn vreeslose Ndebele vrou, gelyk soos ʼn bruin malvalekker met spierwit tande. ʼn Bondel liefde wat se glimlag geen pyn geken het nie; al het haar beker van swaarkry oorgeloop. Pa het na ʼn jag vakansie vanaf ou Duits Wes-Afrika terug gekom, met ʼn vrag vol wildsvleis wat bewerk moes word. Clara was op pad na die bushalte toe pa haar gewaar. Sy was reeds die hele dag te voet besig om werk te soek. Hy vra haar toe: kan jy vleis bewerk?” Ja baas. Van daai dag sou sy ʼn leeftyd met ons wees, en was sy verseker ʼn steunpilaar. ʼn Ware engel met ʼn skitterende hart soos die mooiste edelstene.
Ons het in ʼn lieflike buurt gewoon. Die straat sou sommer afgesper word en almal sou saam kuier en braai. In Groenkop Singel het ons mense ontmoet wat tot vandag op ʼn manier deel van ons lewens is. My pa en sy vriende het saam gekuier; en het die drank maar gevloei onder die manne. Die vrouens daai jare het maar net gekloek en kla; oor die mans en baie kinders.
Ek kan goed onthou toe die nuwe blond langs ons intrek. Die mans was so gefassineerd met haar en wou altyd braaf wees om te help met iets. Dis met so einste straat braai dat sy en haar Griek baklei het. Toe ons weer sien ontaard die buurt braai in ʼn oor en weer geslinger en slanery. Pine skreeu, Sawinski slaan, en pa doen albei. Maar soos ons weet, Grieke loop nooit alleen. Kyk, pa het altyd gesê: “Ek kan baklei.” Die volgend oomblik het ʼn Griek hom bygedam en daar is pa op pad hospitaal toe. Wat was dit met ons en die Grieke?
Ons kinders sou altyd na die braai ’s al die leë koeldrank bottels by die “keffié” gaan ingee vir geld. Dan sou ons “sweets” en “stickers” koop.
Dis nie lank na al hierdie wonderlike tye dat pa die hartaanval gekry het nie. Hy was op die kruin van sukses by sy werk en onder geweldige druk. Eerste in die ry vir ʼn baie groot bevordering. Sou hy die bevordering kry, moes ons Kaap toe trek. Dit het baie stres op hom gesit en die grootste rede was; omdat hy nie wou wegtrek van Oupa Plaas nie. Die hartaanval het alles kom verander in ʼn oogwink.
Ons almal het gemaak asof niks gebeur het nie, en voort gegaan met ons daaglikse roetine. Pa het vreeslik baie begin drink en was hy later nie meer ʼn stukkie van die man wat ons vroeër geken het nie. Die Griek met die lange swart hare, het ʼn nuwe uitdaging gekry met minder bagasie. Pa is gevra om sy werk te bedank omdat hy ʼn drank probleem het. Hy het na die hartaanval drank by die kantoor in gesmokkel. Ma het hoeveel keer gedreig om hom te los, maar ons het niks anders daar buite geken nie.
Hy het die een plan na die ander beraam om geld te maak. Net om ʼn bietjie van sy waardigheid te herstel; maar die bottel het hy soos ʼn kruk saam gesleep. Hy was elke dag by die huis en het begin die rol van “huisvrou” speel, wat ons as kinders totaal in wrakke verander het. Ons moes aan tafel sit vir middagete wat bestaan het uit kerrie skaapafval. Daarna sou hy die drank gaan af slaap en ons aan ons eie genade oorlaat.
Dis op sulke dae wat ons gewoonlik net nonsens aangejaag het. Ons het Mevrou-Mevrou gespeel en ʼn worsie gebraai in die veld. Eintlik ʼn Weense worsie, maar daar slaat alles aan die brand. Gelukkig kon Clara daai tyd nog hardloop om die vuur te blus; terwyl die kinders met plastiek koppies water aandra. Eendag moes ons pa nood gedwonge wakker maak want Tone was blou. Ons het Hond-Hond gespeel en die tou het hom begin wurg. Pa moes met sy knipmes so naby aan Tone se keel sny dat die bloed geloop het.
Hy sou gereeld besope met ons rond ry, gewoonlik na Oupa Plaas toe. Pa het eendag so verslaap hy het vergeet om ma by die werk te gaan haal. Sy het doodmoeg in die donker by die huis aan gekom, ek weet nou nog nie hoe nie. Geld het ʼn probleem geword en daarmee saam moes ons trek na ʼn goedkoper huis. Weg van almal in Groenkop Singel aan die gatkant van die stad. Ek is seker ons kon met alles saamleef maar wat ek nooit verwag het nie, was die aggressie van pa wanneer hy dronk was. Dit het my lewe in twee geskeur; ek het hom vir wie ek so lief was begin haat.
Hy het my ma geslaan, so voor ons kinders. Instink sou maak dat ek reageer en probeer help. Ek sou tussen die geveg intree en ma te hulp snel, net om later self gewond daar uit te stap. Hierdie gewelddadige gebeure sou elke aand van my lewe gebeur; terwyl ek in die dag by die skool gemaak het of niks fout was nie. Laat aande met ʼn geskreeu, blink pistole wat rond swaai, was waaraan ek gewoond geword het. Ek kon nooit maatjies oornooi na my huis en wou ook nie sommer uitslaap nie. Raatjie en Tone was my grootste bekommernis, en het ek als probeer om hulle te beskerm. Dat hulle nie blootgestel word nie, maar ek was net nege jaar oud.
Na werk het hy ma gedwing om geld te gee vir drank en sou my hartspier saamtrek; want ek het al geweet wat dit beteken. Ek het myself aan geleer om nie te slaap in die aande nie, en liewers wakker te lê indien daar moeilikheid sou wees. Party aande het ek per ongeluk aan die slaap geraak dan sou die bloed gille my stomme hart wakker ruk. Soms het ma liewer by ons geslaap dan sluit ek die kamer deur sodat pa nie kan inkom nie. Pa sou my vra om vir hom dop te gooi en as ek die kans gekry het, het ek dit in die wasbak afgegooi. As daar ʼn sopie van die vorige aand oorgebly het sou hy dit in sy koffie gegooi het, terwyl hy aan ʼn paar naeltjies kou.
Dit het glo die drank reuk weg gehou maar vir ons het hy gesê hy het tandpyn. Sondae kon ons gewoonlik uitsien na vreedsame dag met geen drank. Hy sou die bottel kapoet drink Saterdagaand en Sondae sou die drankwinkels toe wees. Bedonnerd was nie die woord om hom te beskryf nie, maar tog was daar ʼn gerusstellende gevoel. Vrede vir een dag.
1 Comment
Clara ek onthou haar so goed..Hectic al wat ek kan se.