Soos die spreekwoordelike frase lui, “sit met jou hande in die hare”. Een taai spul om mee af te reken. Hoe meer ek oor jou begin leer, hoe meer besef ek dat daar soveel ooreenkomste tussen ons is. Dit maak dit moeilik omdat ek myself kan raaksien in jou en wonder…. Hoe jy moes voel om so gestraf te word vir een appel, terwyl ek ʼn mandjie vol het? Jy het vir die lustige slang geluister en van die boom geëet, waarvan jy verbied was. Daar staan in Genesis 3:6 “Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet, en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee.”
Hierdie woorde is belangrik vir vrouwees, en ken ons almal die bekende gevoel van daai woorde. Goed, mooi om na te kyk en begeerlik. Vir jou moeder Eva was die appel net te onweerstaanbaar, vir die kennis wat dit besit het. Kennis, wat ek en al jou susters gekry het, en tot vandag toe nog heeltyd soek. Dis egter hierdie gesoek na meer, waar ons gewoonlik begin om die toffie appels bymekaar te maak. Tot dit als ontaard in een taai spul.
ʼn Jaar later het ons na ʼn groter woonstel getrek in dieselfde omgewing. Ek beskou hierdie deel van my lewe as die soeke na myself, en om myself te leer ken. My hoërskool loopbaan was interessant, niks noemenswaardig maar ek was gelukkig. ʼn Tydperk waar ek net gedoen het wat ek moes.
Daar was baie vriendinne, maar ek self was maar sleg in daai departement. Dit het my nie veel gepla nie, ek was heeltemal te besig om my eie pot te grou. Ek was gelukkig om my eie ding te doen, en my eie kop het my te besig gehou. Akademies het ek hard gewerk, nagte om geleer, en penne vol ink uitgeskryf. Dit was in hierdie jare wat ek ek ʼn geweldige smag na sukses ontwikkel het. Amper obsessief daarna gehunker het. Teleurstellings was vir my ʼn harde been om te kou.
Diep binne my was ek ʼn bang kind, en nou is daar te veel mense en niemand om te help nie. So cliché dit mag klink het ek gelewe vir my familie. Ek het niks anders geken nie. Ek het als vir my gesin gegee, en nou is dit my beurt. Maar ek weet nie hoe nie? Ek was ʼn voorbeeldige kind wat in my skool se eerste hokkiespan gespeel het, en op die leerlingraad was. Ek verneem ek het die titel regverdig verdien, want my pa was ʼn alkoholis, en my ma ʼn werkende enkelouer.
Daarby was al drie die kinders op staats subsidie in die skool. Ek en Toontjies het altyd gespot as hy nie die krieketspan haal nie, dan se ek: “Tone dis omdat jou pa nie ʼn skaap in die kattebak gelos het nie”. Tot vandag toe nog glo ek ons humor het ons ver gedra in die lewe.
Met die opgegradeerde behuising, danksy Snorre, het ons ook nuwe vriende ontmoet. Tannie Sarie was ʼn geskeide ma, en het koeksisters gebak vir ʼn lewe. Die kinders was dieselfde ouderdom as ons, en min wetende sou dit ʼn lewenslange vriendskap word. Ai, ek dink nostalgies terug aan die reuk van warm olie met diep gebraaide deeg. Een taai spul lekkerte, koeksusters wat bars van die stroop as jy hom byt.
Ons het elke Sondag saam kerk toe gegaan, en het die ma’s altyd met die ses kinders in die voorste bank gaan sit. Hulle wou seker maak dat die preek gehoor word.
Ek het kerk gevrees want ek kon net nooit my lag hou nie. Soos die keer wat die stinkgogga op die ou Tannie se pers kapsel rondloop, en al die kinders staar met groot oë. Gaan sy klap of gaan die gedoente spring? Die kerkbank het begin bewe onder die gegiggel, en ek het kliphard uit gebars van die lag. Die snot het oral gespat en die kinders lag nog meer. Ma was glad nie in haar skik nie, en dominee het net onder deur sy bril geloer. Ma het die “tissue” in die ry af gestuur, terwyl ek bakhand die snot wegsteek en na die hoog draende preek luister.
Geld was ʼn swakpunt vir alby gesinne, en die kinders moes ook spring om ʼn geldjie te verdien. Ons het alles probeer, van motors was, tot suigstokkies smous. My Engelse onnie, Mnr. Smith het my eendag gevra om van sy handgemaakte oorbelle te verkoop. Hy het gereken die woonstelle is ʼn goeie afset gebied oor die baie voete daar. Die woonstel mense het die deur in my gesig toe geslaan, en Raaitjie het heeltyd loop en tok tokkie speel. Ek kon nie vinnig genoeg hardloop, met die massiewe bord vol leer oorbelletjies nie. Ek was keer op keer gedreig totdat ek vir Mr. Smith gesê het, “dié is nie “jewellery” tipe mense nie”.
Ek was veertien toe ek by ʼn restaurant begin werk het as ʼn “runner”. Ek was nie oud genoeg nie, en het ek net die tafels skoon gemaak. Die kelners sou my dus met fooitjies betaal, wat nie aldag gebeur het nie. Sommige aande met ʼn skamele vyf rand huis toe. Ek moes die werk maar nood gedwonge los, dit was nie ma se brandstof werd nie.
Wanneer ek geweet het die jaarlikse skou is om die draai, sou ek al my ou klere uitgooi. Dit sou net genoeg inbring vir ʼn nuwe hempie, sodat ek kon mooi lyk vir die aand. Ons wou almal net “cool” wees, en kon ek vir een aand van my lot vergeet. Tannie Sarie het voorgestel ek kom help met koeksisters bak in die vakansies. Dit het beteken vroeg in die oggend ure opstaan, terwyl mense nog vas aan die slaap is. Die betaling was goed, en het ek gereeld ʼn sakkie floppies gekry om huis toe te vat. Ek glo nog steeds sy wou my net help. In daai klein kombuisie, en wat weet ek nou van koeksisters bak?
Op Hoërskool het seuns my aandag stadig maar seker begin kry. Ek was nie die rooi hakskeen tipe nie, heeltemal te dor en droog vir dit. Te veel van ʼn koek en daarby nie te sag op die oog nie. Die mooi meisies het die aandag getrek, veral onder die ouer seuns. Oupa Plaas het my goeie raad gegee en gesê: “Luister mooi na alle mans, maar vertrou net ʼn paar”. My spontane persoonlikheid het darem gesorg dat ek altyd ʼn seuns vriend of twee gehad het. Verlief was ek wel, maar niemand sou ooit weet, nie eers die Adam ’s nie!
Ek en Teuns sou altyd afspreek om vir mekaar op Valentynsdag kaartjies te stuur. ʼn Instelling by die skool, waar al die verliefdes kon kaartjies anoniem rond stuur. Gelukkig sou ons elk darem een kaartjie ontvang en nie so pateties lyk voor die ander kinders nie. Ek het ook my eerste skool sokkies bygewoon, maar Landi moes altyd help. Sy het my elke keer pragtig laat lyk met mooi hare, en blink lippe. Altyd vir my n kledingstuk of twee geleen. Dit was goed vir my self vertroue, al was ek die hele aand ʼn muurblom. Ek het altyd gewonder of was dit die stywe hare, of die groen jeans waarvan die manne nie gehou het nie?
My Hoërskool loopbaan was so bietjie van ʼn warrelwind wat ek nie altyd wil onthou nie. Ek het niemand ooit vertel van my huislike omstandighede of waar ons gebly het nie. Snaaks, niemand het ooit gevra nie. Ons het nie die groot kombi of die slap Mercedes gehad nie. En my huis was definitief nie die partytjie huis met ʼn swembad nie. Ek sou my omstandighede vir niks verruil het nie, en het niks van dit saak gemaak nie.
Op vyftien het ek ʼn seuns vriend ontmoet en was ons lank saam. ʼn Goeie tyd waarin ek baie geleer en gesien het, tot ek die dag groener weivelde gesoek het. Ek het sy hart gebreek in miljoene stukke en was dit vir my ʼn bitter pil om te sluk. Glo my! Karma het my gesoek, en later in my lewe gevind. Met gevolge wat ek nie ʼn vyand sal toewens nie.
2 Comments
Dit bring baie memories terug..die trane het nou gerol..so hard soos wat dot was..sal ek elke dag saam met julle oor doen.xx
Verseker!!!!