Ma was weer swanger en die keer het pa se wens waar geword. Dit was ʼn seun. Raaitjie en ek was uit ons nate uit, kinders met drome. Die opgewondenheid was groot om ʼn boetie te kry, en op ʼn manier dink ek ons almal was verlig gewees. Eerlik waar gedink dat alles weer normaal kan wees. Ook dat Pa gelukkig sou wees.
Tone is gedoop met al die familie name. Ek het hom die NG kerk ingedra vir die groot dag. Daai tyd, het Pa al die kerk verdoem. Hy altyd gesê die grootste skelms sit voor in die kerk. Jare later het die storie tog waarde gedra. Ma moes alleen voorstaan op die rooi tapyt met Meneer Dominee. Die kerk het Pa gemaan om eerder te sit en luister.
Eendag het Meneer Vlok gebel. Dit was ʼn maand of twee voor ma moes kraam. Hy het gesê pa is in die hospitaal, dit was ʼn hartaanval by die werk. Ma het ʼn tas gegryp en begin pak terwyl die buurvrou vir Raaitjie gevat het. Ons is saam hospitaal toe met baie min inligting en ʼn beklemmende gevoel in die keel.
By die hospitaal aangekom, kon ons nie vinnig genoeg loop om by pa se kamer te kom nie. Die sale was donker en die stilte het ʼn mens verskrik gemaak. Net ma se hakke het weergalm in die koue gange. Ek het om die hoek gevlieg en daar lê pa. Ek het soos Lot se vrou versteen. Daar was sy sowaar! Blerrie feeks. Die vermetelheid om te sit langs ons pa en sy hand vas te hou. Die swart gal van my gewete het in my begin borrel. Toe ek opkyk na my ma het ek die vernedering in haar oë gesien. Maar iewers diep was daar ook ʼn kyk van bevestiging. Bevestiging van ʼn oue lange vrees wat sy vermoed het.
Dit was my sewende jaar en van daar sou ons almal se lewe onherroeplik verander van wat ons gewoond was. Dit is ook die jaar wat ons, ons pa verloor het. Al het hy nog gelewe.
Dit sou eers later in my lewe wees wat ek die drade stuk vir stuk begin optel. Die alewige gedink en soeke na iets, om my eie identiteit te bepaal en dat ander my sou verstaan. Party mense het gedink ek is laf en ander het gesê ek te groot vir my skoene.
Hierdie tipe van verraad dra ʼn dogter saam tot die dag wat sy ʼn volwasse vrou is. Vertroue in mans is min, my eie pa het my bedrieg. Oupa Plaas het self vir my gesê: “Luister mooi na alle mans, maar vertrou net ʼn paar”.
Die gevaarlikste was natuurlik wanneer ek dit probeer uit redeneer het met my vriendin, Darling. Dit was nagte vol trane met eindelose vrae en geen antwoorde. Darling het altyd saam gestem met alles en net nog meer ellende besorg. Van frustrasies sou ek net nog ʼn appel afruk van die geliefde sonde boom.
Daarna sou ek spyt wees oor die verleiding in ʼn bottel, dat ek besluit het om eerder weer vir Mev. Roodeberg te gaan kuier. Sy was net so besluiteloos, maar darem bietjie meer beskaafd.
ʼn Kinderdroom is so onskuldig en perfek. Die skade wanneer daardie droom verbrokkel kan geen mens weer probeer herstel nie. Dit is eenvoudig wat dit is en die letsels sal oor die jare saam gedra word. Waarheen en hoe maak ons nou? Ons was dan net kinders met drome.
1 Comment
My hart is seer, dankie dat jy dit met ons deel.xx