Die tyd het aangebreek om groot skool toe te gaan en het die kuiers by pa en die koerante al minder en stiller begin word. Oupa Plaas het my na skool op getel en dan moes ek plaas toe gaan tot laat middag. My pa het stil geword en dit was nie meer dieselfde nie. Ek het gedink dalk pla ek hom by die werk want hy het al meer begin werk.
Soms sou ek hom vra of hy my die volgende dag sal kom haal om by die koerante te gaan kuier, maar dan sou hy stram en ongeduldig wees. Ek het dus ʼn nuwe plan gemaak op die dae wat oupa my nie kon oplaai nie en het vinnig die busroete na ma se werk ontdek. Die nuwe instelling was nou my beste deel van die week en was ek erg in my noppies met die prestasie. As ek net R2.00 kon kry was ek op die bus. As my ma my in die hoek van haar oog gewaar het, met my boeksak op die rug het haar vingers al hoe vinniger begin tik.
Wanneer sy eers stoom af geblaas het dan mag ek ʼn geroosterde kaas en tamatie broodjie op die boek gaan eet. Daarna sou ek vyf rand kry en dan moes ek of spore maak of gaan huiswerk doen. Natuurlik het ek nie op my laat wag nie en in die groot stad gaan rondloop. Die lekkerste was wanneer ek skooltake gehad het, dan sou ek in die groot ou biblioteek gaan snuffel. Ek sou sit en deur al die boeke blaai wat geruik het na stof en ou stories. Dit het altyd gevoel of dit kon spook daar binne, tannies met klein brilletjies en vere stowwers.
Soos gewoonlik het ek weer met die vyf rand rond geloop en ʼn troeteldier winkel gewaar. Daar het ek die skattige wit muise gesien. Ek het net daar besluit om my nuwe vriende huis toe te neem. Die tannie was oud met groot krulle op haar kop. Ek het gevra of ek vier muise kan kry? Sy het hulle versigtig in ʼn skoendoos gepak en gesê onthou ek vat hulle nie terug nie.
Toe ek terugkom by die kantoor was die hel los en ma histeries. Ek moes in die kantoor bly sit en dink aan my sondes. Ma het saam my geloop om die muise terug te vat. Ek was vrees bevange, daai ou vrou was gans te kwaai en lyk soos die duiwel homself. Die tannie het geskreeu soos n besetene en haar hande geswaai.
Ek kon eenvoudig nie die prentjie uit my kop kry nie, en toe maar besluit vir haar ʼn skets te teken. Die volgende week het ek die prentjie by die trappe van die troeteldier winkel af gegooi. Ek het vir die muise gewaai en nooit weer terug gegaan nie.
Daar was altyd ʼn troeteldier in die huis wat vir goeie kindertye en vermaak tussen al die chaos gesorg het. Die speelpark naby ons huis het gewoonlik ook sy verassings opgelewer. Soos die dag wat ons die wegloop hondjie opgetel het en net daar besluit ons hy kom huis toe. Hy het ʼn massiewe roof op sy kop gehad en het ons hom Zep genoem. Zep was ʼn sprokies karakter, Kaptein Zep . My Pa het weer ʼn koronêr geskiet oor die hond, maar net daar veearts toe gegaan. Kaptein Zep was binne ʼn paar dae spek vet en gelukkig.
Zep was ons getroue vriend en het jare lank saam ons gebly tot ons hom eendag plaas toe gevat het. Hy het die aand net nie terug gekom nie. Oupa Plaas het gesê dat Zep nou ʼn nuwe familie het. Hy het glo weggeloop na die Tau tau’s toe en bly nou daar. Ek was bekommerd oor Zep want pa het altyd gesê die Tau tau’s se huis is vuil. Hoenders lê op hulle banke en die skape loop rond in die kombuis. Ma se sy het ʼn koppie tee aanvaar toe kry sy ʼn ryskorrel onder op die bodem. Wonder wat was regtig die waarheid
Op ʼn dag kon oupa my nie kom haal by die skool en het pa gesê ek moet koerante toe kom. Hy wou my na die museum toe vat. O genade die opgewondenheid, ek was gaande oor die museum en al sy oeroue skatte.
My vreugde was egter van korte duur toe pa my vertel dat die tannie met die lang swart hare ook saam kom. Ek het ʼn rare gevoel in my gehad wat ʼn kind nie sal verstaan nie. Hulle het agter my geloop terwyl ek my stil verwonder het aan die outydse winkeltjies met die bottels vol toffies. Daar was ʼn stywe kat op een van die toonbanke. Pa kom kyk, het ek geroep totdat die woorde my begin versmoor het. Al wat ek kon sien is die twee hande van pa en die vreemde vrou in mekaar gevou.
Ek was verward en het gewonder wat dit beteken, maar helaas was dit my laaste dag by die koerante ooit. Ek sou nooit ʼn woord noem aan my dierbare moeder oor daardie dag nie. Haar hartseer wou ek nie sien nie en sou ek eerder met my eie swart gewete saamleef. Alleen was ek egter nie in ʼn stryd nie. My pa het stil met sy eie stryd begin. Die stryd tussen goed en kwaad. Ek het gebid dat die engele daar ver bo in die bloue hemele ons moet bewaar. En al was ons so angs alleen was hul vlerke heeltyd om ons gevou.