• Connect with me:
  • Home
  • About
  • Blog
  • Contact
  • Disclaimer

“So much for the eighties” – Toffie appels vir Eva 6

Nov 12, 2020
So much for the eighties

In ons kinderjare is ons aan soveel gesinsgeweld blootgestel en was elke dag nog ʼn dag waar die skade kon voorkom word. Hulle se die “eigthies” was die dekade waaroor almal behep was? Ek weet darem nie. “So much for the eighties”.

Elke oggend skool toe gegaan en voorgegee of alles in plek is. Jy probeer die beste wees wat jy kan, wil graag jou ouers trots maak. Ek het meeste van my tyd by die skool spandeer, en aan alles deelgeneem moontlik. Die gelowige kind in my het tot vir die skool koor probeer; en was ek net aanvaar omdat daar nie genoeg lede was nie.

Dit was ʼn gemiddelde skool langs die treinspoor en was ons almal maar kinders van die werkersklas. Hier en daar was daar die gelukkiges waar als net so perfek was. Van die familie, die huis tot die motors. In die “eighties” was ʼn kombi ʼn groot ding. Almal wou maatjies met jou wees as jou ma nie gewerk het nie, en ʼn kombi ry.

Ek was een van daai kinders. Altyd gesorg dat ek in die groep is met die kombi’s wat aangery word netbal toe. Ons doen sport, ons doen revue enige ding om in die populêre kringe te beweeg.

ʼn Pakkie suiker word ʼn lewensles

Eendag staan ons in die winkel om ʼn brood te betaal, en daar kry ek een van daai Tannies by die kasregister. Ek groet nederig, maar die Tannie is haastig. Ek fluister vir ma in haar oor dis Tillie se ma, die ryk mense met die dubbelverdieping huis en kombi. Ma het gewag dat die tannie haar pakkie optel en loop en vir my gesê, ”Ryk mense koop nie ʼn klein pakkie suiker nie.” Daai woorde sou ek nooit vergeet nie.

Ek het nog altyd gewonder waarom niemand werklik moeite gedoen het; om uit te vind wat aangaan in ons huis. Te praat oor pa se alkohol probleem. Wou my ouers nie hulp gehad het nie? Of wou familie net nie betrokke raak nie?

Dalk was ons net gesien as die swart skape en dat ons self deur die stryd moes kom. Die probleem waaroor ek egter getob het is dat daar onskuldige kinders betrokke was. Eers jare later sou ek uitvind hoe min familie eintlik van ons geweet het. Almal het gegis oor wat nou eintlik gebeur en dan was die storie so verweg van die waarheid dis skoon lagwekkend. Al wie ooit die waarheid geweet het was Oupa Plaas hulle, en dan ook die enigste familie wat iets probeer doen het.

Terwyl die ander familie Kersfees beplan het jaar na jaar het ons net gehoop op ʼn dag van vrede. Kersfees in ons huis was gewoonlik alles behalwe feestelik gewees. Ons sou darem elke jaar ʼn boks met Kersfees persente ontvang. Net daai messteek dat hulle (die wit skape) ons nog onthou. Ek verstaan eenvoudig nie hoe niemand niks geweet of gesien het nie? Ek was immers skool toe met gesnyde vingers en blou oë, of het hulle my ook per ongeluk mis gekyk?

Juffrou Verwee se brief

My wiskunde Juffrou, Mev. Verwee het eendag ʼn koevert saam my huis toe gestuur. Sy was so doof soos ʼn kwartel en het met die gevolg baie hard geskreeu as sy kwaad was. Binne my het ek gehoop dat sy haar kommer sou uitspreek en dat pa kan sien hoe alles ons beïnvloed. Miskien sou hy tot sy sinne kom.

Opgewonde het ek die brief bewaar en versigtig vir ma gegee, maar toe sy dit oopmaak het sy uitgebars van die lag. Versigtig vra ek ma wat binne die brief staan, en sy het laggend gesê dat Juffrou Verwee by haar wil geld leen! Die teleurstelling op my gesig was duidelik sigbaar en was dit weer net wens dinkery. Ons het self nie geld nie, wat nog om vir ʼn dowe kwartel te leen!

Na vele traumatiese insidente het ma besluit dis die einde en sy moet haar kinders hier wegkry. Elke aand op my knieë gegaan en bid dat die Liewe Vader ons asseblief moet wegvat van Pa. Die laaste episode wat ek kan onthou was ek so uitasem gewees, terwyl die bloed oor my pajamas sypel en almal gil. Groot word was nie vir sussies in die “eighties” nie.

Moffies en stukkende koppies

Dit was die laaste keer wat ons aan die geweld bloot gestel was. Ma het hom gedagvaar vir ʼn egskeiding terwyl sy dood van bekommernis was. Hoe maak sy drie kinders alleen groot? Ons het na ʼn tydelike blyplek getrek sodat sy eers op haar voete kon kom en alles finaliseer. My pa het die egskeiding nie goed hanteer en het hy begin om totaal sy kop te verloor. Hy sou ons meubels deur die dag verkoop, sodat ma niks kon kry uit die egskeiding.

Hy het by Oupa Plaas gebly in ʼn ou stoor maar in die nagte het die horries hom gejaag sodat hy op die rotte begin skiet het. Die volgende oggend het ons pa gehelp om al die stukkende borde en koppies op te vee wat in fyn stukkies rond gestrooi was. Hy was vas oortuig dat die rotte daar was, so asof hy homself wou gerus stel.

Binne my het ek geweet dis nie rotte, maar ʼn groter mag wat hom jaag. Van sielkundige behandeling was daar nie eers sprake nie, pa was te trots en daarby het hy gedink daar is niks fout met hom nie. Die “eighties” was ook nie die plek vir sielkundiges nie, die nood was nooit so groot volgens die geharde slimmes nie. Jy drink dit weg. Die weermag het mos gesê jy is ʼn moffie as jy huil of kla.

Die koeël is deur die kerk en die “eighties” verby.

My ouers se egskeiding is vir die laaste keer deur gevoer en was hulle offisieel geskei. Daar was baie mense wat hulp aangebied het en veral vir ma ondersteun het. Ons kon net hoop dat Oupa Plaas pa sou bystaan want vriende het hy nie gehad nie. Hy het meeste van sy tyd op die plaas spandeer en hom verder oorgegee aan drank, terwyl hy sy wonde gelek het wat nooit weer sou genees nie.

Daar is nagte om gehuil oor my pa en het my gekneusde kinder hart hom so jammer gekry, maar ek was magteloos en moeg. Deur als waardeur ons was en wat hy aan ons gedoen het, het ek nooit aan my liefde vir hom getwyfel nie. Vir hom was ek ontsaglik lief en my pa was ʼn besonderse man. Hy het gehuil by ma om hom terug te vat, maar sy kon nie.

Ek het stilletjies ʼn gebed op gestuur vir Liewe Jesus, ek kan nie weer nie. My pa was daai jare nog jonk en ʼn aantreklike man, maar die dag wat hy gehuil het voor ons deur was hy oud en het hy nie meer sin in die lewe gehad nie. Die lewe waaraan ons gewoond was het tot n einde gekom en so ook die “eighties’.

Share
0

1 Comment

  1. Ria says:
    Nov 13, 2020 at 4:27 am

    ❣

    Reply

Leave a Reply Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© Toffee Apples for Eve. All Rights Reserved. Terms & Conditions. Website Design & Development by RNL Design.
    • Connect with me: