• Connect with me:
  • Home
  • About
  • Blog
  • Contact
  • Disclaimer

Inleiding – Toffie appels vir Eva

Aug 3, 2020
Toffie appels vir Eva

N Vrou se stryd tussen goed en kwaad.

Ek sit soos baie ander dae en wonder, waar dit nou als begin het? Ek weet by Adam en Eva in die paradys, maar wat eintlik aan my knaag is die verbode vrug. Die een wat Eva laat swig het. Nêrens in die Bybel word daar genoem dat Eva ʼn appel geëet het nie. Wat ons wel weet is dat sy ʼn vrug van die boom van goed en kwaad gepluk het, en met die eerste smul was sy en haar susters almal slawe van verleiding. So ontstaan daar toe ʼn memoir genaamd, Toffie appels vir Eva.

As Afrikaners word ons vanaf ons eerste Kinderbybel geleer van Eva, die slang en die appel. Dis waar ek besluit het om Dr. Google te vra wat die woord beteken, en min sou ek raai. Die Latynse woord vir kwaad of slegtheid is “Malum”. Vandaar is die spelling vir appel en kwaad in die Latynse vertaling dieselfde.
So is die idee gebore dat dit ʼn appel was, en dalk ʼn goeie bewys dat dit wel die ronde soet vrug kon gewees het.

Die verleiding

Party dae verbeel ek my dit was eerder ʼn sappige tros rooi druiwe. Dan sou ek immers verstaan waar my, en vele ander susters se lus vir ʼn Pinotage vandaan kom. Dit was verseker ook nie Lint Sjokolade nie, Eva sou nie eers die slang se opinie gevra het. Daar is net geen keer aan ʼn belustige vrou vir ʼn soet dingetjie nie. Party dae sal ek vroumense so bekyk, dan is ek weer oortuig dit was ʼn suur Granny Smith. Tot vandag toe dra elke vrou die suur, soet en bitter van hierdie einste vrug.

Sekere goed in die lewe doen ons vroumense mos voor ons dink. ʼn Appel vind ek gans te vervelig. Ek glo dat die vrugte paradys lekkerder kon bied as die nederige appel. In my geestes oog was dit die pragtigste rooi en groen toffie appels. 

Die appels het gedrup van die karamel drade en was een taai spul. Dit het rond gewaai aan die boom en geskitter van spin suiker. ʼn Regte rooi Toffie appel vir Eva. Iets wat al ons vrouens sal laat verstaan waarom Eva ons gefaal het. Hoekom ons as dames onsself nog steeds straf elke dag van ons lewens. Hoekom het Eva vir ʼn slang geluister? Ons luister nie eers vir die manlike geslag nie. Waarom was die appel so bekoorlik? Diamante klink na ʼn beter opsie.

Die Toffie appel

Ek het my passie vir mooi en lekker op hol gejaag. In my verbeelding het ek aan toffie appels gedink. Ek wou vrede maak met die idee van verleiding, aangesien ons niks daaraan kan verander, en dit eerder te probeer verstaan. Miskien moet ons eerder vir Eva gerus stel dat sy verlei was. Want as dit nie sy was nie, sou dit beslis die volgende vrou gewees het.

As kind het ek geweet, ek dink heeltemal te veel vir my jeugdige ouderdom. Dink was dalk nie die woord nie, maar eerder bepeins. Soms ernstige kwessies, eintlik vir grootmense. Daarna sommer oor kinderlike sinneloos hede, soos hawelose muise. Ek sal my ma se gesig nooit vergeet, die dag toe my veldmuise ontsnap. Hulle het laat spaander deur die huis, en ek was de moer in. Ondankbaar om in ʼn voëlhok te kan bly.

Laat ons nie nou al in die verlede gaan kuier nie. Eers moet ek my rede en motivering vir die storie met julle deel. Ek myself sukkel nog altyd met die stryd tussen goed en kwaad. So groot stryd dat ek dit moes konfronteer, en uit eindelik die slang probeer nek omdraai. Ek dink dis tyd om my storie te vertel, ek wou nog altyd. Miskien as ek dit op papier sien, is dit nie meer net my storie nie. Dalk baie ander Eva’ s sin.

Die storie

Ek glo daar is baie vrouens en jong dames daar buite wat in dieselfde posisie was, of steeds is. So mag hierdie boek vir jou ʼn soete troos wees. Presies soos daai eerste rooi toffie appel by die kerk basaar, wat aan jou tande geklou het.

Ek het myself so lank gestraf om met al hierdie gevoelens en denke alleen te worstel. Maar met behulp van my God en ʼn paar lopende engele, kon ek my malende gedagtes neerpen. Myself probeer bevry van my grootste vyand, ek self.

Eva, ek weet jy is nou so nuuskierig. Ek het nog nie werklik genoem wat my goed en kwaad behels. Of hoe my lewensreis jou nou eintlik raak nie. Al wat ek jou nou kan belowe, is ʼn mallemeule van op en af. ʼn Skaterlag uit jou maag tot ʼn traan uit die diepte van jou siel.

Die storie moet soos alle verhale voor begin, daarmee dalk nie die ideale begin nie. Maar laat dit vir jou ʼn onbekende reis wees saam my, tot jy iewers ʼn stukkie van jouself kan vind. Dalk herken jy ʼn paar foute van jou eie? Onthou liewe Eva, ons almal maak foute en soms is dit die dure foute wat jou weer op die pad kry.

Die lewe is een groot mallemeule...

Share
1

1 Comment

  1. Corne says:
    Sep 16, 2020 at 5:29 pm

    Yes pls!🥳

    Reply

Leave a Reply Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Never miss a post!

Enter your email address below to subscribe.
Loading

Categories

  • My secret pleasures
  • Toffie appels vir Eva
  • Travel, Food & Photography
© Toffee Apples for Eve. All Rights Reserved. Terms & Conditions. Website Design & Development by RNL Design.
    • Connect with me: