Dis hoe dit maar altyd was. Wilde rose en blink voëls. As daar een mens was vir wie my pa die grootste respek gehad het, was dit sy pa. Ek het feitlik op die plaas groot geword en was dit vir my ʼn veilige plek in die slegte tye. Oupa Plaas was maar ʼn bedonderde man met ʼn glimlag wat geen geld kon koop nie. By hom het ek soveel geleer en gesien.
Oupa Plaas se lewe was self nie ʼn spog verhaal nie, en het hy ook die pad gestap van alewige verleiding. Hy is jare gelede geskei met Ouma Koekela en is hy met Tannie Patroontjie getroud. In die huwelik is ʼn dogter gebore en was sy ʼn vreeslike mooi kind. Tannie het my geleer naaldwerk doen en Ousus was soos my suster. Ek was versot op haar en het sy altyd die rou seer plekkies in my kleine hart vir ʼn wyle styf toe geplak.
Daar was soveel weergawes van die familie sondes. Die oor en weer beskuldigings dat almal stadig begin het om die hasepad te kies. Ek het dit self begin doen want as kind het ek gedink hierdie familie is sowaar vanaf die hel. Ek moes skater lag toe ek die dag hoor dat Oupa Plaas se suster Aggie, ʼn heks was. Nee Vader hoe ironies, gee eerder vir ons genade want vir ʼn heks het ons nie krag nie. Hopelik slaap Agnus soet en sag langs die wilde rose.
Die dae het een vir een verby gesleep en was elke dag ʼn groot uitdaging vir ons gesin. Ek het al die kindwees wat ek ooit gehad het begin verloor. Die kind in my het plek gemaak vir ʼn grootmens wat moes leer om te baklei, en met grootmens probleme te worstel.
Oupa Plaas het my by die skool kom haal as pa nie kon nie. Dan wag ons voor die hoërskool sodat Ousus kon klaar maak. Oupa Plaas sou vir hom die koerant koop, en vir my die lang swart “drops” om die wag korter te maak. Daarna sou ons uitry plaas toe net buite die stad.
Party dae sou ek en Oupa by sy ma, Ouma Dup gaan kuier in die ouetehuis. Gewoonlik ʼn rare belewenis. Sy was in die negentig en blykbaar ʼn formidabele vrou. Glo op haar dae tydens die Boere oorlog ammunisie vir die soldate aangery.
Sy het nege mans getrou en hul almal oorleef. As jy haar geken het, sou jy liewer nie jou gedagtes spreek nie. Haar laaste man wat sy gehak het, was oom Duif soos ek hom leer ken het. Sy was voorwaar een van die wilde rose gewees.
In haar eie woorde het sy nog vir Oupa gesê: “Ek weet nie wat gebeur het nie.” Hy het nog so op die bed gesit en vir die voëls kyk, toe kap hy om. Daar het hy loop lê en sy asem uit blaas.
Daarna was sy ook op die afdraande pad en as sy nog langer gelewe het sou sy moes malhuis toe.
Oupa het ook gedink dat dit beter is as ek haar nie meer sien nie. Die stom kind se piering oë wanneer ouma Dup iets lekker vir my bêre. ’n Stuk droë vis, sorgvuldig in ’n servet toegedraai.
Terwyl ek my middae op die plaas spandeer het, sou ek saam Oupa takies uitvoer. Ons sou botter maak of loop en al die diere kos gee. Sy hoogtepunt was om my na die haan se hok te stuur. Daai haan het my elke keer op die knieë geskop dat die bloed loop.
My grootste tyd verdryf was om wippe te stel vir al die mooi voëls wat op die plaas rond gevlieg het. Ek het hulle nooit seer gemaak nie, dalk net bietjie verwilder. My doel was om hulle te probeer mak kry.
Eendag het ek die mooiste voel op die plaas gevang. Ek het hom al ʼn geruime tyd met begeerlike oë dop gehou.
Sy vere het geblink soos kristalle in die son wat weerkaats het nes ’n reënboog. Ek het gehardloop na die stroois om vir Pote te gaan roep, en hy het die skaapskêr gaan haal. Hy het gesê die vlieg vlerke moet waai anders sal hy vlieg.
Toe Oupa Plaas daai voel sonder sy vlerke sien het hy wit geword en begin vloek dat ek wou weghardloop. Die blink voël, verwaarloos en sonder vlerke onder my elmboë gebêre.
Oupa was kwaad oor Pote die vlerke geknip het en gesê; “nou gaan die voel elk geval katkos word”. Ek het sleg gevoel vir Poot want dit was eintlik my skuld, hy wou net help.
Ek kon die af vlerk voël nie eers huis toe vat nie en het dit gevoel of ek Oupa so teleurgestel het. Snot en trane gehuil, terwyl my blink voël die dood in die oë gestaar het.
1 Comment
Kani wag vir die volgende leesstof nie!!